Een vas, drie ontsnap na aanval

LYDENBURG – ‘n Vermeende plaasaanvaller het Saterdag sy rieme behoorlik styfgeloop.

Die man, wat nog nie geïdentifiseer is nie, is glo ernstig beseer toe hy met ‘n gesteelde voertuig in ‘n sloot beland, en daarna te voet deur drade en slaggate van lede van die Badfonteinbuurtwag probeer vlug het.

Hy is tans in ‘n bedenklike toestand en onder polisiebewaking in Lydenburg-hospitaal.

Volgens kapt. Alfred Moela, het die verdagte en drie ander makkers, Douglas Dickson (60) van die plaas JT 109 Rietfontein in dié distrik net na 19:15 oorrompel, vasgebind en met boomtakke aangerand.

“Dickson was alleen op die plaas tydens die aanval. Hy het op sy stoep vleis gebraai en toe voor die televisie gaan eet. Na wat verneem word, het hy nie die deur gesluit nie en het vier gewapende mans skielik in die vertrek verskyn.” Die verdagtes het Dickson beveel om nie na hulle te kyk nie. Hulle het hom laat plat lê en het ou munte, geld en vuurwapens van hom geëis. “Die aanvallers was gewapen en het gedreig om hom met ‘n koevoet aan te rand sou hy nie aan hulle eise voldoen nie,” het Moela gesê.

“Toegang tot die kluis het niks opgelewer nie en die verdagtes het toe begin om die huis te plunder. Hulle het met Dickson se beursie met ongeveer R3 500 daarin, ‘n windbuks, kruideniersware, kos, drank, baadjies, ‘n verkyker, kettingsae, radio’s, ‘n televisie en selfs hondekos op die vlug geslaan.”

Die verdagtes het die gesteelde goedere op Dickson se bakkie gelaai en van die toneel gevlug. Dickson, wat slegs geringe beserings opgedoen het, kon homself bevry en het die bure van die voorval in kennis gestel. Boere het die buurtwag gemobiliseer en ‘n soektog na die verdagtes is van stapel gestuur.

Sy bakkie met twee verdagtes is kort daarna aangekeer en ‘n oor-en-weergeskietery het glo ontstaan. Na wat verneem word, het die bestuurder ‘n sloot met die bakkie getref. Die passasier het weggehardloop, maar die bestuurder is aangekeer nadat hy probeer vlug het.

‘n Vuurwapen met ‘n afgevylde reeksnommer is ook in sy besit gevind. Moela het bevestig dat ‘n saak van huisroof geopen is. Hy het ook bevestig dat die drie ander verdagtes nog nie aangekeer is nie.

  AUTHOR
Narda Vermaak
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Repairs on the R36 to enter the second stage