Die storie van Jayden

Jayden Ross Rautenbach kort na sy geboorte in die intensiewe-hoësorgeenheid vir premature babas.

STEELPOORT – Die gemeenskap is verheug oor die vyf maande oue klein wonderwerkie, Jayden Ross, wat uiteindelik tuis is nadat hy ‘n paar keer by die dood omgedraai het.

Jayden Ross Rautenbach is op 29 weke gebore en het 1,4kg geweeg. “Dit was ‘n normale swangerskap met geen komplikasies nie. Ek was van plan om ‘n pediater nader aan die tyd te gaan sien, maar voor ek kon, was Jayden hier. Dit was ‘n normale geboorte en alles het goed verloop,” vertel sy ma, Talita Rautenbach.

Jayden se longe was nog nie ten volle ontwikkel nie en hy is in neonatale hoësorgeenheid van Mediclinic Limpopo in Polokwane opgeneem. Daar is hy op 100% suurstof geplaas wat elke dag verminder is. Na ‘n week het die pediater gesê hy doen goed en dat hy van die suurstof kan afkom.

Skaars ‘n uur later het die Rautenbach’s ‘n oproep ontvang dat Jayden weer terug op suurstof was. Op 19 November het sy magie erg begin swel en het sy een longetjie platgeval. Volgens die dokters het hy septisemia opgedoen en moes dringend na die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria oorgeplaas word. “Jayden was nie stabiel genoeg om vervoer te word nie, en die pediater het gesê die situasie is ernstig,” vertel Rautenbach.

Die nuus van Jayden se terugslag het die dorp vol versprei omdat sy pa as ‘n pastoor, ‘n gesogte man in die gemeenskap is, en daar is versoeke om gebede vir hom gedoen. Met hulle aankoms by Eugene Marais is X-strale van sy longe geneem, en hoewel daar ‘n verbetering was, het die een nog nie gefunksioneer nie.

Daarby is vasgestel dat hy ‘n virus (nekrotiserende enterokolitis) wat sy maag en kolon aantas, opgedoen het. Hy het steeds septisemia, wat deur Rautenbach se borsmelk aan hom oorgedra is, gehad.

Jayden was sedert sy geboorte vir 84 dae in die hospitaal.

‘n Week nadat hy ontslaan is, is hy weer met konvulsies en stuiptrekkings opgeneem. Dokters het vasgestel dat hy ‘n drukking op die brein het. Hulle het vir hom ‘n shunt (pypie) vanaf sy brein na sy maag ingesit wat die drukking verlig.

Hoewel daar nie met sekerheid vasgestel kon word of hy neurologiese skade opgedoen het nie, is sy ouers aangesê om sy vordering dop te hou en seker te maak dat hy sy mylpale vir sy ouderdom bereik. Hy het reeds sy eerste een bereik deur te glimlag en self sy koppie op te tel.

“As ons terugkyk na video’s en foto’s, kan ons net nederig in verbasing dankie sê vir ons almagtige Vader dat Hy sy hand oor ons seuntjie gehou het, en vir wat Hy nog gaan doen,” sê Rautenbach.

Hulle het ‘n fonds gestig waar mense ‘n bydrae kan maak vir die kleinding se mediese kostes. Rautenbach vertel as dit nie vir almal was wat finansieel en deur gebed ingetree het nie, hulle nie die beste hulp vir Jayden sou kon kry nie.

Afgesien van die pypie wat na vyf jaar verleng moet word, en elke ses maande se skanderings, lei hy nou ‘n normale lewe.

Die gesin se beker van dankbaarheid loop oor teenoor almal wat die pad saam met hulle gestap het. “Ons wil veral die pediater, dr. Julian Smith en sy verpleegpersoneel prys vir hulle puik diens asook Maureen Knoetze en almal wat die gholfdag as fondsinsameling gereël het.”

Laastens vra die gesin dat die gemeenskap nie sal ophou bid nie, en saam sal glo dat Jayden se pad net vol voorspoed sal wees.

  AUTHOR
Mariska Sadler

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Eskom confirms power cut is a real threat