Ou goed maak kleingoed gelukkig

LYDENBURG – Op Kersdag is daar niks beter as om jou kind se gesig te sien straal van geluk as geskenke oopgemaak word nie. Vir baie kinders in die dorp is Kersfees egter net nog ‘n dag.

Kinderland Boutique Kleuterskool en Steelburger/Lydenburg Nuus gaan saamspan om te sorg dat minderbevoorregte kinders in die dorp ook elkeen ‘n geskenkie het om op Kersdag oop te maak.

Volgens Liese Broekman, hoof van die skool, samel hulle al die afgelope drie jaar teddiebere in wat aan welsynsinstansies geskenk word. “Dié jaar het ons egter besluit om ook vir enige ander ou speelgoed te vra. Teddiebere is nog baie welkom, maar ons wil graag ander speelgoed ook uitdeel.”

Al die speelgoed gaan gewas, opgeknap en dan net voor Kersfees aan ‘n welsynsinstansie geskenk word. Daar is geweldige nood op die dorp. Beide die laerskool en hoërskool het broodjieprojekte waar hulle pouses aan minderbevoorregte kinders kos voorsien. Tydens vakansies is die projekte nie beskikbaar nie. Daar sal dan nie geld vir luukses soos geskenke wees nie.

Godshome, ‘n welsynsinstansie in die dorp wat 10 jaar lank vir meer as 60 hulpbehoewende gesinne gesorg het, het ook twee weke gelede hulle deure gesluit. Dié organisasie het hom veral op jong kinders en bejaardes toegespits. Die nood in die dorp is dus groter as ooit.

Enige ou speelgoed en teddiebere kan by Kinderland of Steelburger/Lydenburg Nuus se kantore afgelaai word. Vir meer inligting, skakel Broekman by 072-372-3542 of die koerant by 013-235-1624

  AUTHOR
Narda Vermaak
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Run/Walk for life