Van oorgewig tot ’n gespierde wenner

Wat kan ‘n mens in ‘n bietjie meer as ‘n jaar vermag?

Wel, as jy Danny de Beer (30) is, redelik baie – met deursettingsvermoë en doelgerigtheid. Danny het onlangs aan die Mpumalanga Intermediêre Liggaamsbou-kompetisie in Secunda deelgeneem.

Dit was nie net sy eerste deelname aan ‘n professionele ligaamsbou-kompetisie in 15 jaar nie, maar hy het boonop in twee kategorieë met die louere weggestap.

Hy het op 15-jarige ouderdom, nog op skool, aan sy eerste kompetisie, die Middelburg Classics deelgeneem. Danny het dié keer stof in sy teenstanders se oë geskop.

Hy het die mans-ope vir o/90- kilogram asook die klassieke mansafdeling gewen. “Ek het aanvanklik vir my troue begin gewig verloor en het uiteindelik 35 kilogram afgeskud. Ek is iemand wat vir myself doelwitte stel en dit bereik.” En bereik het hy.

Danny oefen nie eens by ‘n professionele gimnasium nie, sommer by sy huis. “Dit is maar ‘n sameloop van ‘n streng dieet en oefening. My dieet verskil van week tot week en my afrigter, Jaco van der Walt help my baie.” Dit is moeilik om te glo dat Danny in Maart verlede jaar nog baie oorgewig was.

“Die oefening is orraait, maar die dieet is baie moeilik. Gelukkig het ek ‘n wonderlike vrou, Melanie en dogter Nina (4) wat my ondersteun. Alles wat ek nie mag eet nie, koop ek vir hulle. Die sjokolade waarvoor ek lus het, sal ek vir hulle kry,” skerts hy.

Daar is natuurlik opofferings as dit kom by professionele liggaamsbou, maar dié boorling van Lydenburg gaan nou daarop fokus om oor drie weke aan die provinsiale kompetisie in Witbank deel te neem. Indien Danny daar kwalifiseer, kan hy deurdring na die SA’s.

Sy groot droom is natuurlik om in die Arnold Classics wat elke jaar in Suid-Afrika aangebied word, mee te ding. Vir jongmanne wat moontlik dié sport oorweeg, het hy net een wenk: “Moenie op ‘n vinnige manier probeer om dit te bereik nie. Volg die gesondste roete. Dit sal verseker dat jy die sport nog vir baie jare sal kan beoefen.”

Danny wil graag die volgende persone bedank wat hom deur alles bygestaan het: “Dankie aan God, my vrou, dogter en familie. ‘n Groot dank ook aan Alzu Eiers, Pick n Pay Lydenburg, Jandré Stander van Phoenix Sekuriteit, Johan Erasmus van R&E Pompe in Limpopo, Elvo Dynamics, Sibambeni Mining Group en Hanru en Japie Bam.”

  AUTHOR
Narda Vermaak
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
gerda